OPVOLG: Dogtertjie kan dalk haar sig in regter-ogie verloor na hond haar byt

Klein Miané in die hospitaal, kort nadat sy verlede week deur die hond gebyt is.

 

Die moontlikheid bestaan dat klein Miané Pienaar (1 jaar) blind kan word in haar regter-ogie nadat sy verlede Vrydag deur vermoedelik ‘n Amerikaanse veghond (pitbull) in die gesig gebyt is.
Miané en haar driejarige sussie het die dag voor in hul erf naby Stephensonstraat Spar gespeel toe die hond glo van die straat af in hul erf ingekom het en dreigend op die kleingoed afgestorm het. Miané se sussie, Agenessa, kon betyds wegkom en in die huis in hardloop, maar Miané was nie vinnig genoeg nie.
Haar pa, mnr. Gert Pienaar, het dadelik besef wat aangaan en die hond aan die keel gegryp en uit die erf gegooi.
Die gesin het daarna met Miané hospitaal toe gejaag. Sy word sedertdien in die Sebokeng-hospitaal behandel. Sy sal more (Donderdag) na ‘n oogkliniek by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word.
Die hond se tand het vermoedelik in haaar ogie ingehaak en indien sy nie vinnig gevorderde behandeling kry nie, is daar ‘n moontlikheid dat sy haar sig in die oog kan verloor.
* Verskeie honde is glo kort voor die voorval in die straat gesien, besig om in opgehoopte vullissakke op die sypaadjie te grou. Soos in vele ander gebiede in Vanderbijlpark, word vullis hier ook nie gereeld verwyder nie.

Die Prinsloo-gesin het hoë mure en ‘n hekkie voor hul erf, maar die hekkie het vermoedelik oopgegaan toe die honde daarteen gespring en gekrap het.
Die DBV het die twee veghonde intussen verwyder en die eienaar opgespoor. Die eienaar is glo erg geskok omdat die honde uit sy erf gekom het en kan nie glo dat Mainé gebyt is nie, aangesien die honde nog nooit voorheen aggressief teenoor mense opgetree het nie. Dit is in dié stadium nog onbekend hoe die honde uit hul eienaar se erf gekom het.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top