Skolekrieket skop met knal af

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek en Noordvaal Hoërskole Krieketliga vir eerste spanne het Saterdag met ’n knal afgeskop.
Op die Hoërskool Transvalia se tuisveld was die tuisspan se kaptein, Zian de Jager, die doring in Dr. Malan se vlees. Hy het vier paaltjies laat kantel en met sy veldplasings en afwisseling van sy boulaanval die Dokkies nie toegelaat om enige ritme te vind nie. De Jager wat bekend is vir sy draaiboulwerk, het die besoekers met sy nuwe snel-aflewerings verras. Sy lyn en lengte was onberispelik.
Die Dokkies het vanuit die staanspoor die langsteel ingelê, maar is vir 87 lopies in die 23ste boulbeurt uitgeknikker. Valia het daarna die telling met agt paaltjies in die bank verbygesteek. Phillip van Eck het (29*) aange-teken. Die Hoërskool Sasolburg het sy veldtog met ’n sege met vier paaltjies oor die Hoërskool Driehoek afgeskop. Driehoek het eerste gekolf en 254/10 in 40.1 aangeteken, danksy ’n spoghondertal deur Leandru Brand wat 104 lopies van slegs 101 aflewerings gemoker het. Nathan Besuidenhout was Sasol se voorste paaltjievraat en het vier paaltjies in nege beurte platgetrek.
Sasol het daarna die teiken in die 42ste beurt met nog vier paaltjies staande verbygesteek. JP Smit (78 van 119 balle) was die anker van Sasol se beurt.
Vir die Hoekies het Rodney Vass drie paaltjies platgetrek, maar dit was nie genoeg om Sasol van ‘n oorwinning te weerhou nie.
In die Sasolburg-derby het ’n warrelwind beurt deur Affies Sasolburg se Arrie Jacobs (47*) ’n sege met agt paaltjies aan sy span besorg.
HTS Sasolburg het eerste gekolf en 139/10 in 26 beurte aangeteken. Affies se Drian Cockeran het vier kolwers pawiljoen toe gestuur en gesorg dat die Spanners nie tot die hoogste versnelling kon oorskakel nie.

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top