Warm aksie by Winterswem

Aksie tydens verlede jaar se Sasol Winterswemkampioenskap. Foto's: Ettienne van Rensburg

SASOLBURG. – ‘n Vennootskap wat oor meer as 40 jaar strek word op 25 Junie voortgesit wanneer die Sasol Nasionale Winterswemkampioenskap by die Penny Heyns-swembad afskop.
Honderde swemmers gaan van 25 tot 30 Junie hulle swemtalente by die 47ste jaarlikse kampioenskap ten toon stel.
Legendariese swemmers soos Ryk Neethling, Terrence Parkin en Penney Heyns na wie die swembad vernoem is, het hulle tande by dié swemhoogtepunt gesny.
Parkin het sy eerste medalje in die einste swembad op 10-jarige ouderdom verower en die rekord wat die 10-jarige Ryk Neethling daar opgestel het, is vandag nog staande.
Die Noord-Vrystaat is hierdie tyd van die jaar in koue kombers toegedraai, maar die swembad word darem tot 25 grade celsius verhit, wat sake bietjie beter maak vir deelnemers.
Verlede jaar het Tatiana Schoemaker, Penny Heyns se 23 jaar oue 50m-borsslagrekord verbeter. Heyns word nie verniet as die beste Suid-Afrikaanse vroue-borsslagswemmer beskou nie.
Sy het die rekord in 1994 as ‘n 17-jarige opgestel, maar vanjaar sal dit agter die naam van die Tukkies-student geskryf staan. Wie vanjaar rekords gaan verbeter sal slegs tyd leer. Een ding is seker, die kwik in die swembad gaan styg!

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top