Skole steeds speelbal in staat se hand

 
Retha Fitchat

Talle skole kan hulle maar regmaak vir groot chaos in 2019 na die raad van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, dat ouers hul Graad 1’s en Graad 8’s by enige skool van hul keuse kan inskryf sonder inagneming van die skool se taalbeleid.

Die verwagting wat dit by ouers gaan skep indien ‘n skool se beheerliggaam weier om op Lesufi se aandrang ‘n nuwe onderrigtaal aan te bied, kan uiteindelik soveel ontwrigting skep dat dit verskeie skole in die gebied letterlik in brandpunte kan laat ontaard, voorspel onderwyskenners.

Ons het reeds in Januarie en Februarie vanjaar by die Hoërskool Overvaal gesien wat gebeur as die onderwysdepartement ‘n skool wil dwing om sy gevestigde taalbeleid te verander om aan te pas by kinders wat nie in Afrikaans onderrig wou word nie. Kosbare onderrigtyd het verlore gegaan en Lesufi moes uiteindelik die knie buig nadat die kwessie in die hof gaan draai het. Daar kon egter tóé reeds voorspel word dat Lesufi nie so maklik sou gaan lê nie. Sy jongste uitspraak dat skole gedwing sal word om waar nodig, hul taalbeleid te verander, is net ‘n voortsetting van die geveg.

Die gevolge van Lesufi se standpunt, in ag genome die menslike natuur, kan nou al kristalhelder voorspel word: Baie ouers het nagmerries dat hul kinders dalk skielik in ‘n ander taal as hul moedertaal onderrig sal moet word, of as hul kinders in ‘n skool ver van die huis ingeneem moet word om steeds moedertaalonderrig te kry. Ernstige wrywing tussen gemeenskappe oor ras- en taalkwessies kan sekerlik volg. Nog ‘n kwelpunt is dat onderwysers te kampe gaan hê met onbeheerbare groot klasse.

Enorme klasse van 40 tot 50 kinders is moeilik hanteerbaar – nie net in terme van onderrig nie, maar plaas ook ‘n geweldige administratiewe las op onderwysers en die skool. Aangesien van dié klasse ongetwyfeld dubbelmedium sal moet wees, beteken dit dat onderwysers hul klasse byvoorbeeld in Afrikaans én Engels sal moet voorberei en dus twee mense se werk sal moet doen – sonder bykomende vergoeding.

In ‘n meningspeiling wat in Oktober 2017 deur die Suid-Afrikaanse Onderwysers-unie (SAOU) gedoen is, het 85% deelnemende onderwysers aangedui dat hulle toenemend aan uitdagende en gewelddadige gedrag van leerlinge onderwerp word. Baie van ons onderwysers – sekerlik een van die edelste beroepe op aarde – word daagliks aan emosionele afknouery en selfs fisiese aanranding blootgestel.

Indien die regering hul taak nog moeiliker maak deur groot klasgroepe vol kinders met onverwante moedertale, verskillende kulture en verskillende sienings van dissipline te moet hanteer, gaan daar min tyd vir opleiding in klastyd oorbly.

Baie onderwysers het al aan Vaalweekblad onthul dat hulle moedeloos en sielsmoeg is weens die groterwordende uitdagings van hul beroep. Dit is tyd dat die onderwysdepartement die welstand van hul personeel en daarmee saam ons land se kinders, eerste stel en nie langer politieke speletjies speel nie.

Redaksionele kommentaar – Mei 2018

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top