Kalk gaan spat

VEREENIGING. – Speel elke wedstryd asof dit jou laaste een is.

Dit is die leuse wat Fanie van Wyk, afrigter van Vereeniging Rugbyklub (VRK) se eerste rugbyspan, by sy spelers indril.

“Ek glo daarin dat die spelers hulself moet geniet. Anders, wat is die doel van alles,” het van Wyk, aan die vooraand van sy span se jaarlikse derby teen NWU Vaal gesê.

VRK kom Saterdag op sy tuisveld in die Valke se Peregrine-liga teen NWU Vaal te staan. Dié kragmeting lok jaarliks baie belangstelling en vanjaar is geen uitsondering nie.

“Ons voorbereiding het baie goed verloop. Dit was weer lekker dat Stefan (Jacobs, direkteur van afrigting by VRK) ons weer gehelp het. Sy insette is altyd goud werd.”

“Ons weet wat vir ons voorlê. Ons onderskat hulle glad nie. Die emosies wat met derbies hoog loop kan ‘n probleem wees, maar ons benader dit as net nog ‘n wedstryd. Ons moet net by ons wedstrydplan en verdedigingspatroon hou en dinge sal goed gaan,” gee hy te kenne.

“Daar is ‘n besonderse atmosfeer wat die bestuur en spelers die afgelope paar jaar gevestig het. Dit dra ongelooflik baie by tot ‘n span se sukses op die veld. Daar is ook gesonde mededinging tussen die spelers. Daar is ‘n broederskap tussen die spelers,” sê Vereeniging se breier.

Een van die klub se groot aanwinste is Maties se Varsity Cup-senter, Eldon Schoeman, wat Saterdag ‘n  wavrag ondervinding saambring.  Sy balverspreiding en ervaring gaan in die middelveld deurslaggewend wees.

Volgens Shaun Meijer, NWU Vaal se sportbeampte vir rugby, is hy in sy noppies met die intensiteit waarmee die spelers vandeesweek geoefen het.  “Die spelers het Maandag, Dinsdag en Donderdag alles ingesit en is lus vir Vereeniging. Dit gaan taai wedstryd wees, maar die spelers is baie positief,” sê hy.

NWU Vaal se eerste rugbyspan het in sy laaste twee kragmetings teen VRK met 71-14 en 34-15 die onderspit gedelf, maar sedertdien het daar baie water in die see geloop. Daar is nuwe pyle in die klub se koker. Die impak wat die afrigters Christo Abrahams, Dewald Pieterse, en Jorrie Jordaan se rugbykennis op die klub se welslae tot dusver die seisoen gehad het, kan nie misgekyk word nie.

Die eerste spanne vir Saterdag is:

Vereeniging (1-22):  Donovan Venter,  Dawie Steyn,  Johannes Van Deventer, Wouter Van Der Berg, De Wet Van Wyk, Dean Fourie, Kobus Schlebusch, Kosie Bosman,    Johan Watkins, Jacques Petzer-Moore, Wian Koekemoer, Lenrich Van Vuuren, Hendrik Smit,  Arno Poley, Carlyle Hendriks, Dylan Van Zyl, Ernst Snyan, Charl Rheeders, Armand Smal, Shaun Botes,Elden Schoeman en Erjee Heenop.

NWU Vaal  (1-15): Ruan Goosen, Charl de Jager,  Nico van Tonder,  Dawid Kleynhans, Marnus Erasmus, AJ Pretorius,  Ruan Marais, Marco Sauer, Conraad Robbertse , Tinus Kazlo, KB Nqhatsetseng,  Pierre Lombaard, JJ Klein, JP Storm en Hardus Scott.

Aksie tydens verlede jaar se derby tussen NWU Vaal en Vereeniging Rugbyklub. Foto: Ettienne van Rensburg

 

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top