Innoverende braaiers te sien by Deneysville kerkbasaar se braaierbou uitdaging

 

Buks Havenga nooi alle belangstellendes uit vir die fees:

Die N G Kerk op Deneysville (by die Vaaldam) hou Basaar op Saterdag, 26 Mei vanaf 08:00. Die jaarlikse Basaar is wyd bekend as gevolg van die tradisionele plattelandse atmosfeer wat daar gewoonlik heers. Hierdie jaar se Basaar beloof om weereens aan al die verwagtinge te voldoen met al die gebruiklike vars eetgoed, vleistafel, handewerk, boere-orkes, braaierbou uitdaging, speletjies en ’n koffietuin. Baie besoekers pak die tog na Deneysville spesiaal aan om aan die beroemde sosaties en ontbyt boepensbroodjies (jaffels) te kom smul. Dit is enkele van die spesialiteite wat elke jaar al hoe meer gewild raak. Daar is ook baie ander eetgoed soos skaap op die spit, vetkoek, kerrrie en rys, nagereg, koeke, skaap afval, en natuurlik pannekoek.

 

Iets wat hierdie jaar vir die eerste keer aangebied gaan word, is ’n braaierbou uitdaging. Die tuisvervaardigde en sommige saamgevlansde braaiers en kontrepsies gaan reeds van vroeg af op uitstalling wees, en sal te koop aangebied word op ’n veiling wat 11:30 afskop. Daar kan nie nou al te veel uit die mou gelap word nie, aangesien die Bobaas Braaibouer titel op die spel is, maar daar gaan gewis baie interessante braaier ontwerpe te sien wees. Die skeppings behoort in die smaak te val van die mees ernstigste braai entoesiaste tot die wat op die uitkyk is vir ’n handige rondneem model. So, as jy lief is vir braai, is hierdie dalk net die geleentheid om jou volgende baie unieke spogbraaier aan te skaf.

 

Die basaar gaan hierdie jaar weereens gasheer speel vir sekerlik die enigste toltrekker kampioenskap in die wêreld. Dit is ’n ope, gratis kompetisie in twee klasse, en enigeen is welkom om te kom deelneem.

 

Vir meer besonderhede oor die Basaar en die braaierbou uitdaging, kan Ria Rautenbach (016-371-1405) of Carlie Schiel (016-371-1409) gekontak word.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top