Studente-atletiek uit die boonste rakke

SASOLBURG. – Die Noorwes-Universiteit (NWU) is die naweek op die DP de Villiers-stadion as die 2018 Universiteite Sport Suid-Afrika se Atletiek-kampioen (USSA) gekroon.
NWU het Sondag die jaarlikse USSA Baan- en Veld Kampioenskap op ’n hoë noot afgesluit toe hy die medaljestryd gemaklik met ’n medaljeoes van 33 medaljes (13 goud, 13 silwer en 7 brons) gewen het.
Die Universiteit van Johannesburg was tweede met 25 medaljes, gevolg deur die Universiteit van die Vrystaat met 24 medaljes.
Een van die groot trekpleisters van die naweek se byeenkoms was die Olimpiese en Statebond-kampioen, Caster Semenya se deelname in die 400m. Semenya het pas uitgevind dat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) haar gaan dwing om testosteroonverlaging-medikasie te gebruik as sy aan afstande tussen 400m en die myl (1.609km) wil deelneem. Die nuwe regulasie gaan November in werking tree.
Ondanks die nuutste verwikkelinge het sy haar 400m-uitdun Vrydag met ‘n skaflike tyd van 51.87 gewen en Saterdag die finaal met ’n spogtyd van 50.48. Dit is slegs 0.08 stadiger as haar persoonlike beste tyd oor die afstand. Sy het in die proses die naelloop-spesialis, Justine Palframan (51.58) wat tweede geëindig het, gewen.
Vanuit ‘n plaaslike oogpunt het Marga Cumming en Tshepang Makhete van NWU die Vaal se naam hoog gehou. Albei van hulle oefen in Sasolburg by Basie Koen en is die naweek as die USSA-hamergooikampioene gekroon. Cummings en Makhete het die hamer onderskeidelik 57.85m en 69.57m ver geslinger.
Nog twee Valies wat goeie vertonings gelewer het is, Wally Ungerer (Tuks) wat die 100m in 10.7s afgestorm het, maar ongelukkig nie die finaal kon haal nie. Sy spanmaat en mede-valie, Ruan Combrinck, wat pas na ’n skoueroperasie teruggekeer het, het met ’n stoot van 16.41m vierde geëindig in die gewigstoot vir mans.

 

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top