Statebond-kampioen skitter op DP de Villiers

Caster Semenya hou haar kop af en laat haar arms en bene werk met die wegspring van die 400m vir vroue. Foto: Ettienne van Rensburg

SASOLBURG. – Die Statebond- en Olimpiese-kampioen, Caster Semenya, het Vrydag op die DP de Villiers-stadion die kollig by die Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) se jaarlikse atletiekbyeenkoms gesteel.

Semenya wat in die kleure van die Tswane Universiteit van Tegnologie (TUT) deelgeneem het, het haar plek in die 400m-finaal bespreek toe sy haar uitdun in ‘n skaflike tyd van 0:51.87 gewen het.

Maties se Justine Palframan (0:55.39) en Danel Holton (NWU: 0:55.68) het die ander twee uitdunne gewen. Die finaal word Saterdagmiddag om 16:00 gehardloop.

In nog ‘n finaal het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Marga Cumming die hamergooi vir vroue met ‘n goeie afstand van  57.85m gewen en in die proses die SA-kampioen, Letitia Janse van Vuuren, uitgestof. Stefanie Greyling van NWU (55.74m) was tweede. Die spiesgooi vir mans is deur NWU se Johan Grobler met ‘n puik poging van 79.80m gewen.

Die driesprong vir vroue is deur Zinzi Chanbangu van die Universiteit van Johannesburg met ‘n sprong van 13.65m gewen. Wat die langasems betref, het die Universiteit van die Vrystaat se Kesa Molotsane die wedloop vir vroue in ‘n tyd van 34:49.16 gewen en die manswenner was Milton Kekana van TUT in ‘n tyd van 30:02.60.

Laaste maar beslis nie die minste nie het NWU se Statebond-hamergooier, Tshepang Makhete, die USSA-titel met ‘n puik gooi van 69.57m opgeraap. Alan Cumming was tweede. Die byeenkoms eindig Sondagmiddag. – Vir die volledige uitslae besoek www.versus.co.za

 

 

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top