Negentien voertuie in drie dae gestrand weens slaggate

Die remmerke kan hier duidelik gesien word waar een van die voertuie groot skade opgedoen het nadat die bestuurder deur 'n slaggat gery het - Foto's met vergunning van Chris Smuts & Rudy Francis

Eerste publikasie 4 April 2018

VEREENIGING. – Bestuurders en insittendes van minstens nege voertuie was verlede Maandag in die omgewing van Blackwoodstraat en Ringweg in Drie Riviere gestrand nadat hulle in ‘n kwessie van twee ure deur diep slaggate in dié twee paaie gery het. Twee dae later, op Woensdag 28 Maart, is 10 voertuie binne vier ure in dieselfde gebied beskadig.

Die skokkende toestand van die paaie word duidelik aangetoon in ‘n video wat ‘n inwoner van Risiville, Frikkie Prinsloo, op 26 Maart op sosiale media gedeel het. Toe die video geneem is, het drie van die voertuie steeds in Ringweg gestaan. ‘n Entjie verder nóg vier. Al die bestuurders was in die proses om hul beskadigde bande te probeer herstel. Sommige van die voertuie kon nie daar reggemaak word nie en moes deur insleepdienste opgelaai en na herstelplekke vervoer word.

“Dié gebied is deel van die ANC-beheerde Emfuleni. Die paaie is ‘n teken van die swak diens wat ons van die ANC ontvang,” sê Prinsloo in sy video.

‘n Voorstel om Blackwoodstraat en die direkte omliggende gebied, wat tans in die Emfuleni-munisipaliteit val, by die Midvaal-munisipaliteit in te lyf, is tans ter tafel by die Afbakeningsraad.

Minstens nege voertuie het verlede Maandag ernstige skade an hul bande opgedoen. Woensdag is nóg tien in die omgewing van Blackwoodstraat en Ringweg beskadig. Inwoners sê dit is ‘n daaglikse gebeurtenis dat voertuie hier beskadig word, veral van motoriste wat nie die omgewing en die “valstrikke” ken nie. Remmerke op die pad kan hier duidelik gesien word. Inlasfoto: Een van die beskadigde voertuie se band en wielvelling nadat dit ‘n slaggat getref het. Foto’s: Rudy Francis

Foto onder: Een van die beskadigde voertuie se band en wielvelling nadat dit ‘n slaggat getref het.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top