VF Plus verkla weermagoffisier by Gelykheidshof oor haatspraak

Die 80-jarige ds. Braam van Wyk (regs)wat 'n aanval oorleef het waarin sy vriend, prof. Cobus Naudé (76) vermoor is. Dit is oor dié aanval dat Maj. MV Mohlala (links) gesê het bejaarde "rassistiese" Afrikaners verdien 'n wrede dood.

 

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, skryf:

Die VF Plus het besluit om maj. M.V. Mohlala van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) by die Gelykheidshof aan te kla vir haatspraak na sy uitlatings op sosiale media waarna die weermag hom slegs oor die vingers getik het.

 

Mohlala, wat gestasioneer is by die Wonderboom militêre basis in Pretoria, het ná die moord op emeritusprofessor Cobus Naudé (76) onder meer gesê: “Nou is dit wit mense se beurt. Hulle moes eintlik sy oë en tong uitgesteek het sodat die laaste mense wat hy kon sien, sy moordenaars was…”.

 

Die VF beskou hierdie uitlatings as haatspraak. Dit is baie ernstig veral oor die feit dat Mohlala ʼn lid van die weermag is en soldate geensins politieke uitsprake kan maak nie aangesien hul integriteit bo verdenking moet wees om alle mense in Suid-Afrika sonder vooroordeel te verdedig.

 

In die lig van die Vicki Momberg-uitspraak sal die VF Plus toesien dat dieselfde maatstawwe nou ook toegepas word op maj. Mohlala aangesien rassisme van enige aard, ongeag jou ras, onaanvaarbaar is en as sulks beoordeel moet word.

 

Indien daar ʼn voorbeeld gemaak is van Momberg, moet daar ook ʼn voorbeeld gemaak word van Mohlala om ʼn sterk boodskap uit te stuur na die gemeenskap en veral aan alle lede van die weermag dat hulle altyd apolities en onpartydig moet wees.

 

Dit is nie net Mohlala se uitsprake wat die beeld van die weermag skaad nie, maar ook die wyse waarop daar teen hom opgetree is deur hom bloot te berispe. Dit wek die indruk dat dit aanvaarbaar is dat weermaglede, en in hierdie geval ʼn senior offisier, sulke haatdraende uitsprake kan maak.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top