Nog water uit V’ging op pad Kaap toe

Gepubliseer in Vaalweekblad van 7 Maart 2018

VEREENIGING. – AfriForum se Vereenigingtak het onlangs 1 300 liter water vanaf CTU Training Solutions ontvang om na Kaapstad te stuur. Hierdie water is deel van die 8 500 liter wat reeds deur Hoërskool Overvaal ingesamel is.

Die ingesamelde water word vervoer na “Water Shortage South Africa” (WSSA) se afsetpunt in Vereeniging, waarna dit na die Wes-Kaap vervoer sal word.

“Almal sê water het geen smaak nie, maar daar is niks lekkerder om te drink wanneer jy werklik dors is nie. Ons mensdom kan sonder meeste dinge klaarkom, maar beslis nie sonder water nie.

“Ons lees en hoor oral van Dag Zero. Met familie in Stellenbosch is ek nog meer bewus van die ongelooflike krisis wat daagliks groter raak,” sê Bianca Mouton, ‘n dosent by CTU en projekleier van CTU se waterinsamelingsprojek.

“Die Here het ons hier in die Vaaldriehoek en aan die Rand al so geseën met ‘n goeie reënseisoen. Dit het my laat besluit dat ons dankbaarheid gewys moet word. Ek is in die ideale werksplek om te help water insamel en motiveer al die studente op kampus om aan die projek deel te neem,” sê Bianca.

Sy is met reg trots op die 149 studente van CTU se Vereenigingkampus wat meer as 1 000 liter water kon insamel om Kaap toe te stuur. Sy bedank ook AfriForum wat die vervoer van die water Kaap toe behartig.

Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder, sê hy is net so beïndruk met die studente en hul waterprojek. “Dit is fantasties om met sulke geesdriftige mense saam te werk en die eenheid te sien vorm met elke aksie wat aangepak word,” sê hy.

Die insameling vorm deel van AfriForum se nasionale waterplan wat ten doel het om dorpe van water te help voorsien wanneer die regering nie in staat is nie of as gevolg van droogte.

“Dit is vir AfriForum onaanvaarbaar as die staat nie aan mense se basiese behoeftes kan voldoen nie. Water is die een hulpbron waarsonder geen een kan lewe nie. In krisisse moet ons onsself mobiliseer en water self op ‘n volhoubare wyse voorsien,” sê Marcus Pawson, hoof van Omgewingsake by AfriForum.

* Mense wat by AfriForum wil aansluit en wil help met watervoorsiening, kan “water” na 45352 SMS. Die koste is R1 per SMS.

Studente van CTU se Vereenigingkampus wat die afgelope weke hard gewerk het om meer as 1 000 liter water vir inwoners van die droogtegeteisterde Kaapstad in te samel.

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top