Keer hierdie puttoilet nóú

Riool loop hier in die Suikerbosrivier in by Drie Riviere

Redaksionele kommentaar – eerste plasing: Vaalweekblad 14 Februarie 2018
Vaalweekblad is die afgelope weke vir die soveelste keer deur inwoners, sakelui en omgewingsbesorgdes gekontak oor voortdurende rioollekkasies – dié keer veral in Vereeniging.

In die omgewing van Senwes en die skouterrein in Vereeniging is die probleem so erg dat werknemers in die omgewing reeds weens siektes wat met dié soort lekkasies geassosieer word, afgeboek moes word.

Hendrik Schmidt, adjunk-skaduminister vir Mynbou en ‘n DA-lid van die parlement, het Maandag ingegryp en die gebied self besoek. Die stinkende rioolwater, wat oor ‘n wye gebied in en om die skouterrein versamel, is blykbaar die gevolg daarvan dat drie rioolpompstasies in die gebied nou totaal tot stilstand gekom het.

Die verwerking van riool is ‘n noodsaaklike diens in enige ontwikkelende gebied waar groot getalle mense woon en werk. Dit is gewoonlik ook een van die eerste gespesialiseerde dienste wat in duie stort as behoorlike beplanning en onderhoud aan die stelsel nie gedoen word nie. In die Vaaldriehoek is ons lankal by daardie punt verby. Tot nou toe was dit dag-tot-dag krisisbestuur want die uitdagings is inderdaad enorm, maar dit lyk asof die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nou totaal beheer oor die rioolsituasie verloor het. Die gevolge is verreikend. Oral in die Vaaldriehoek spoel rou riool plek-plek in die Vaaldam of Vaalrivier in. Berigte oor potensieel dodelike organismes in ons riviere wat tot ernstige siektes ly, of erge komplikasies veroorsaak as mense met oop wonde met die water in aanraking kom, haal gereeld die nuus. So kan ons nie aangaan nie.

Ons hoor gereeld die rioolstelsel is oud en gaan te duur wees om te vervang. Ons hoor ook gereeld daar is nie meer kundige mense in die munisipaliteit wat die stelsel behoorlik kan onderhou nie. Ons hoor daar is nie genoeg geld nie. Ons het nou genoeg gehoor. Dit is nou tyd dat alle politieke partye, omgewingskundiges en die publiek saamstaan en eis dat die probleme opgelos word.

Dit is onwaar dat daar nie geld is nie. Die departement van waterwese en sanitasie het blykbaar glo genoeg geld wat aan Emfuleni beskikbaar gestel kan word om ‘n groot deel van die huidige probleme op te los. As daar nie kundige mense in Emfuleni is nie, gaan soek dan die land se topkundiges en bewese kenners as kontrakteurs. Lei sommer ook verdienstelike, intelligente mense vir die toekoms op deur hulle te laat studeer en oorsese lande te besoek waar die riool-uitdagings net so groot is en tog met groot sukses hanteer word.

Ons eis nou van Emfuleni om in die pers bekend te maak hoe die munisipaliteit die rioolprobleem gaan vasvat. Niemand kan langer op die kantlyn staan en toekyk hoe ons geliefde Vaaldriehoek in een groot puttoilet verander nie.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top