Stilte voor die storm

Ruann Visser en Osbourne Machimane het vanmiddag by Gas Monkey Pub and Grill ingeweeg vir more-aand se titelgeveg. By hulle is die promotor Steve Kalakoda van Kalakoda Promotions. Foto: Ettienne van Rensburg

VANDERBIJLAPARK. – Dit gaan môre-aand by die Emerald Resort en Casino vuishoue reën met die kans van uitklophoue plek-plek.

Dit is die versekering wat boksgeesdriftiges vanmiddag by die inweeg van die boksers gekry het. Die inweegsessie is by Gas Monkey Pub and Grill gehou en het baie belangstelling gewek. Hoewel daar verskeie gevegte môre-aand plaasvind is alle oë op die Vaaldriehoek se lieflingseun, Ruann Visser, gevestig. Hy kom in die hoofgeveg teen die Suid-Afrikaanse Swaargewig-bokskampioen,  Osbourne Machimane, te staan. Visser-hulle sal nie net om die Suid-Afrikaanse titel meeding nie maar ook om die vakante ABO All Africa Swaargewigtitel.

Visser het op 116kg ingeweeg, terwyl die SA-kampioen die skaal op 143kg laat kreun het. Dit is maklik om te sien waarom Machimane, se bynaam “Big Daddy” is, maar moenie dat sy voorkoms jou flous nie. Hy is ‘n gesoute bokser met wavragte vol ondervinding. Op 27-jarige ouderdom is Ruann in die fleur van sy loopbaan, maar op 39 is die kampioen miskien bietjie lank in die tand. Hoewel die tweemanskap voormalige skermmaats is en mekaar goed ken het hulle die versekering gegee dat dit môre-aand oorlog gaan wees wanneer hulle in die kryt klim.

“Ek dink nie die geveg gaan langer as vyf rondtes duur nie, ” het Visser gesê. Machimane het dit laat deurskemer dat hy die geveg gaan rek en dat sy teenstander nie oor die nodige stamina beskik om meer as 9 rondtes te veg nie.

 

 

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top