Lesers loof én waarsku ma wat huishulp wil word

Marinda Freeman en haar dogtertjie, Miané (5 maande).

Retha Fitchat

MEYERTON. – ‘n Jong wit ma van Daleside het onlangs ‘n warm debat op Facebook ontketen toe sy aangekondig het dat sy ander mense se huise vrou-alleen sal skoonmaak, boonop teen ‘n baie billike vergoeding.

“Ek gaan begin huise skoonmaak vir ‘n inkomste. Dit behels skoonmaak van die huis, wasgoed was en stryk. Ek is beskikbaar Maandae tot Vrydae,” het Marinda Freeman (25) se inskrywing op Facebook gelui. Sy beoog om minstens agt huise op ‘n gereelde basis blinkskoon te hou.

‘n Groot getal lesers het Marinda voorspoed toegewens en haar fluksheid geprys, terwyl ‘n klompie minder geesdriftige lesers haar gewaarsku het dat sy moet sorg dat sy ‘n behoorlike sakeplan opstel om haar eie uitgawes, soos vervoerkoste en dagsorg vir haar kinders terwyl sy werk, in berekening te bring. Sakelui het haar ook die raad gegee om ‘n kontrak te laat opstel om haar te vrywaar as iets in een van die huise skeefloop, breek of wegraak, en die eienaars haar die skuld wil gee. Ander het gewaarsku dat sy moet ligloop vir mans met bose motiewe wat haar dalk net alleen in hul huise sal wil kry.

Tot dusver is dit hoofsaaklik swart vroue wat as huishulpe in die Vaaldriehoek werk en in baie gevalle ‘n integrale en geliefde deel van hul werkgewers se gesinne word. Hoewel heelwat wit Vaaldriehoekse vroue in die afgelope jare ook huisskoonmaakdienste begin aanbied het, is hulle gewoonlik net in toesighoudende hoedanigheid betrokke en word die fisiese werk steeds met die hulp van spanne vroue uit die townships gedoen. Dit is dus nie aldag dat ‘n wit vrou kans sien om die groot taak – om ánder mense se huise skoon te hou – op haar eie skouers te neem nie. Vroue wat hul eie huise sonder hulp skoonmaak weet immers dit is ‘n groot en dikwels ondankbare taak.

Marinda voel egter anders daaroor. “Om huis skoon te maak is vir my net ‘n plesier. Ek hou daarvan om besig te bly en sal dit heeldag doen. Ek love dit!” sê sy.

Sy het besluit om dié taak aan te pak om haar man, Wesley (29), te ondersteun en sy salaris as stoorman aan te vul. Die egpaar het twee jong kinders, Dante (3) en Miané (5 maande), vir wie hulle graag die beste moontlike lewe wil gee. Dit kan hulle net doen met ‘n tweede inkomste, maar werk in die Vaaldriehoek is skaars. Om ‘n huishulp te word, kan die ekstra inkomste bied waarna hulle streef, sê Marinda.

Inwoners van Meyerton, Henley-on-Klip en Daleside wat meer oor Marinda se beoogde diens wil uitvind, kan haar skakel by 076 817 3035.

 

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top