VRK sê nee vir Super-liga

VEREENIGING. – Die Vereeniging Rugbyklub (VRK) het waarskynlik ‘n wyse besluit geneem om nie aan die Blou Bulle se nuwe Super-liga én die Valke se Peregrine-liga deel te neem nie.

Drie van die Valke se klubspanne, Brakpan, East Rand United en Springs het Maandagaand ingestem om aan altwee ligas deel te neem. Die Super-liga skop amptelik op 24 Februarie af.

VRK wat tans die Valke-kampioen is en die Valke-Rugbyunie in die gesogte Gold Cup verteenwoordig het, is dit eens dat 22 wedstryde in 23 weke net te veel stremming op die spelers en hulle hulpbronne sal plaas.

Die 22 wedstryde sluit nie vriendskaplike wedstryde of enige uitspeelwedstryde in nie. Dit kan ‘n lang seisoen raak.

Die Jakarandastad se spanne wat aan die Super-liga deelneem is: Tukkies, QBR, Centurion en Naka Bulle. Die ander deelnemers is die drie Valke-klubs en Impala van Noordwes. Northam gaan ook nie aan die Super-liga deelneem nie.

Die Kempton Wolwe skuif vanjaar op na die Peregrine -liga. Die liga skop eers in April af en teen daardie tyd behoort die Valke-klubs die helfte van hulle Super-liga verpligtinge nagekom het.

Daarna sal die Valke-klubs op af-naweke aan die nuwe liga deelneem. Die ander klubs se vrese dat spelers afgerokkel gaan word, is al reeds bewaarheid met verskeie plaaslike spelers wat aanbiedinge ontvang het.

Vereeniging gaan vanjaar waarskynlik die seisoen sonder twee staatmakers moet klaarkom. Ryno Hendrikz sluit hom by sy broer Deon by Johannesburg Bobbies aan , maar VRK se grootste verlies gaan sy Speler van die Jaar, die flank Ricky Menezes, wees wat met ‘n skuif na East Rand United verbind word.

Na wat verneem word kan die plaaslike klubs nie meeding met vergoeding wat die randse-klubs vir spelers aanbied nie.

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top