Bekende egpaar vier 30 jaar saam

Peter (57) en Ronél Klein (50)

 

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – ‘n Plaaslike egpaar, Peter (57) en Ronél Klein (50), wat die afgelope jare reeds naam gemaak het op die gebied van liggaamsbou, het vroeër die maand hul 30ste huweliksherdenking gevier.
Vaalweekblad het die afgelope jare al gereeld berig oor hul prestasies. So twee jaar gelede was hulle byvoorbeeld in die top tien van hul onderskeie afdelings in die World Fitness Federation (WFF) se wêreldkampioenskappe wat in Pretoria gehou is.
Deelnemers van 21 lande het aan die spogbyeenkoms deelgeneem. Wat die egpaar se prestasies nog meer besonders gemaak het, is dat hulle deelgeneem het in afdelings jonger as hul werklike ouderdomme.
Peter het Suid-Afrika onder andere reeds by die WFF Worlds in Australië verteenwoordig en het ook al aan die WFF Universe in Frankryk deelgeneem.
Hulle was in September 2015 die wenners van die paartjies-afdeling by die International Bodybuilding and Fitness Federation (IBFF) se SA Kampioenskappe en in hul individuele afdelings het Peter tweede in die meestersafdeling (o/50 jaar) en Ronel ook tweede in die dames o/35-afdeling geëindig.
Tans neem die Klein-egpaar nie amptelik deel aan wedstryde nie, maar hulle spog albei steeds met pragtige figure. Dit kom beslis nie sonder opoffering en baie harde werk nie. Hulle oefen soggens vanaf 05:00 saam by Virgin Active in Vanderbijlpark – een en ‘n half uur per dag, ses dae per week.
Dit is ‘n lewenswyse sedert hulle 30 jaar gelede getroud is. Ronél, eiendomsagent by Pick your Property, het in 2009 aan kompetisies begin deelneem en Peter, ‘n analis by ArcelorMittal, in 2011.
Die egpaar sê hul kinders, Carla (wat nou matriek toe gaan) en Walten (nou graad 7) hou hulle jonk. Carla is in 2014 aangewys as wenner van Figures SA se “Fashion Model of the year 2014”. Walten is die gesin se “computer games expert” en hy swem graag.
Die Kleins sê gesonde eetgewoontes is ‘n normale lewenswyse vir die hele gesin. Dit sluit vars groente soos broccolli, boontjies, spinasie, hoender, rooivleis, wildsvleis, vis en bruin Basmati-rys in. Ronél glo dat tuisgemaakte kos beter as wegneem-etes is, hoewel die gesin hulself soms met ‘n lekker pizza bederf.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top