Stella verloor haar werk maar help steeds ander in nood

Die ratse hande van Stella Jooste en haar assistente staan gereed om kos en ander benodigdhede aan minderbevoorregtes uit te deel

 
Retha Fitchat

MEYERTON. – “Min mense is bewus van die geweldige nood en ellende in ons gebied. Hier is mense, van babas tot bejaardes, wat erg honger ly.”

Só sê Estelle (Stella) Jooste (61), die dryfkrag agter die hulporganisasie Hope: Helping People Everywhere.

Stella het vir 18 jaar as kredietkontroleerder by ‘n bekende personeelagentskap gewerk, totdat sy een oggend onverwags afgelê is.

Sy en haar man het na Riversdale, Meyerton verhuis, waar sy kennis gemaak het met die staatskliniek, waar pasiënte daagliks vir ure op behandeling wag.

Sy kon sien van die mense was baie honger en het met die toestemming van die suster, toebroodjies begin bring. Dié is natuurlik opgeraap en dit het spoedig ‘n gereelde instelling geword. Aanvanklik was net vier brode nodig maar later moes Stella 15 brode, polonie en grondboontjiebotter per keer voorsien. Mettertyd het sy ook met kos en klere begin help waar die nood op sy hoogste was. Om alles uit haar en haar man se eie sakke te betaal, het onmoontlik geword en Stella het skenkings van sakeondernemings, hul eie familie en die publiek begin vra. Talle goedhartige sakeondernemings en individue het mettertyd begin skenk en Stella kry ook elke tweede maand ‘n skenking van Gift of the Givers. Daar is meer as 100 behoeftige gesinne op Stella se boeke maar danksy dié skenkings kan so 30 gesinne darem vir drie tot vier dae per maand kospakkies ontvang. Hoewel dit help, is die nood steeds onbeskryflik groot.

Om in ‘n ondervoede baba of bejaarde se honger oë te kyk, dryf dié sterk vrou tot trane en besorg haar slapelose nagte.

“Soms kan ons net rys of meel vir ‘n bejaarde neem, waaroor hy of sy dan ontsettend dankbaar is omdat daar regtig geen ander kos in die huis is nie,” sê sy.

Stella en haar helpers lewer so gereeld as moontlik kos en klere in uiters behoeftige gemeenskappe van Vanderbijlpark, Vereeniging, Mooilande, Unitaspark, Drie Riviere, Meyerton en Riversdale af. Hiervoor gebruik sy haar eie motor en brandstof, maar sy vrees die dag as haar karretjie nie meer wil saamwerk nie. ‘n Betroubare bakkie is wat sy eintlik nodig het. Intussen is Hope Helping People Every-where ook amptelik as nie-winsgewende organisasie geregistreer (npo168-612).

Die grootste behoefte is tans aan kos, klere vir mense van alle ouderdomme, babadoeke, babakos en formule, lakens, komberse, gordyne, kombuisartikels, toiletware en fondse vir toebroodjies by die kliniek, sowel as brandstof vir afleweringwerk. Weens die swak ekonomie word skenkings al minder en kanse lyk skraal dat Stella en haar helpers vanjaar vir 350 minderbevoorregte kinders ‘n jaarlikse Kerspartytjie sal kan hou.

Tans word 320 Kersgeskenke nog benodig. Enigiemand wat ‘n donasie wil maak of ‘n geskenk wil borg, kan Stella by 084 896 6496 skakel.

Makro in die Vaaldriehoek het Hope Helping People Everywhere onlangs bygestaan met ‘n R5 000 koopbewys waarmee Stella vir 50 gesinne kospakkies kon gee. Hier ontvang sy die kruideniersware van Shawn Deysel en Sphiwe Msibi van Makro.

 

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top