Juventus: Dié juweelskool maak leer lekker!

Retha Fitchat
MEYERTON. – Met ‘n opdrag van God en geloof in die hart het Izelle van den Bergh die Juventus Privaatskool tien jaar gelede gestig en in Januarie 2008 met sewe leerlinge en drie personeellede geopen. Haar droom was om ‘n dinamiese privaatskool met ‘n Christelike grondslag en Afrikaans as onderrigtaal vir die Vaaldriehoek daar te stel.
Juventus is by die Departement van Onderwys geregistreer as ‘n onafhanklike privaatskool (Emis Nr 400307) vir graad R tot en met Gr 12. Danksy die unieke en passievolle benadering tot onderwys het Juventus Privaatskool deur die jare so gegroei dat daar vanjaar al 54 leerlinge en 14 personeellede is.
Die kennisgedrewe kurrikulum is gebaseer op die nasionale kurrikulum (CAPS), en die matrieks skryf die Nasionale Matriekeksamen.
Sterk klem word op hoë gehalte akademiese opleiding geplaas, maar die skool se visie is ook om die kind in sy of haar totaliteit te bedien. Om dié rede word gefokus op individualiteit, praktiese lewensvaardighede, taal en kultuur, etiek en gesinswaardes – alles binne ‘n Christelike, gebalanseerde omgewing om kinders voor te berei vir hul toekoms. In die vaardigheidsperiodes word primêre leerlinge byvoorbeeld geleer om vir hulself maklike etes voor te berei, omdat meeste ouers vandag albei werk en dit noodsaaklik is dat kinders selfstandig raak.
Juventus se leerlinge is gebalanseerd: Hulle neem deel aan sport soos hokkie en atletiek op skoolvlak en geniet buitemuurse aktiwiteite soos fotografie, kunsklasse en tot sjefklasse vir die fondasiefase.
Die skool beskik oor ‘n volledig toegeruste laboratorium waar leerlinge elke eksperiment self uitvoer, ‘n mediasentrum met internettoegang waar navorsing vir take gedoen kan word, sowel as rekenaar- en leessentrums.
Uitstappies en toere word ook gereeld onderneem na interessante plekke en die sakesektor, wat blootstelling aan die handboekinligting verseker.
Klasgroottes word tot 15 leerlinge beperk en die baie geslaagde Thinking Tools van dr. Cas Olivier word gebruik om die jongklomp te help om optimaal te presteer. Juventus is ‘n sterk akademiese hoofstroomskool met ‘n 100% matriekslaagsyfer vir die afgelope drie jaar, asook 100% universiteitstoelating.
Juventus nooi alle ouers van Meyerton, Alberton, Deneysville, Oranjeville, Heidelberg, Vereeniging, Vanderbijlpark, Sasolburg en Parys uit om hul kinders hier in te skryf.
Graad 8’s van 2018 is welkom om nog te kom registreer, met skoolfonds van R2 200 per maand. Gr R en 1 is R1 800 vir 2018. Skakel (016) 363 1504 of stuur ‘n e-pos na Kantoor@juventus.co.za vir meer besonderhede. Die skool is op Kariba Ranch, Donald-rylaan 35, Glen Donald, Meyerton.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top