VOLLEDIGE BERIG: Klopper stel sy kant oor skietdood

Wyle Gavin Victor

Hy het meer as 143 skermgrepe van die beeldmateriaal geneem om presies te verduidelik wat gebeur het, maar adv. Karen van Rensburg, wat vir die staat optree, meen hy het net skermgrepe gemaak van wat hy wil hê die hof moet sien.

Gavin Victor is op 7 Mei 2016 in die parkeerarea van Manhattans in Drie Riviere-Oos doodgeskiet na een van sy vriende, Etienne Schreiber, Klopper en sy vriend vroeër die aand in ‘n onderonsie betrokke was in die kroeg. Gideon Louw, ‘n gekwalifiseerde oogkundige van Vanderbijlpark, by wie Klopper ‘n pasiënt is, het getuig dat Klopper bysiende is. Hy kan glo net 1.5 meter sien sonder sy bril.

Klopper en twee vriende het die betrokke aand saam met sy vriend, Pieter, by Manhattans gekuier. Volgens hom was hy nie bewus dit is ‘n kuierplek nie en het sy vuurwapen by hom gehad. Hy het ‘n vuurwapenlisensie. Niemand het geweet ek het ‘n vuurwapen nie. Ek is vertroud om met ‘n vuurwapen rond te loop, dit is elke dag se ding,” het hy getuig. Hulle het net na 21:00 by Manhattans aangekom en kroeg toe gegaan om iets te bestel om te drink. Hy het net koeldrank bestel.Later die aand het Etienne toe glo tussen Klopper en Pieter kom staan.

‘n Woordewisseling het ontstaan en Etienne het toe eers vir Pieter met die kop op die neus geslaan, en daarna vir Klopper met die vuis bygedam. “Dit was die eerste keer wat iemand my geslaan het. Ek het later my pa gebel om te hoor wat ek moet doen.” Sy pa het vir hom gesê om die polisie te bel en ‘n saak van aanranding te maak. Met sy pa se aankoms by Manhattans, was die polisie nog nie daar nie. Klopper, sy pa en twee vriende het by die kar gestaan toe Gavin kort na middernag uit Manhattans gekom het. Hy het na sy Jeep gegaan en die passasiersdeur oopgemaak en vir Etienne gewys hy moet kom inklim dat hulle kan ry.

Klopper het besluit dat Etienne nêrens heen gaan voordat die polisie nie daar is nie. Klopper sê hy het rustig na hulle gestap en die Jeep se deur oopgemaak om vir Etienne te sê die polisie is op pad, en dat hulle nêrens gaan nie. Adv. Van Rensburg het aan Klopper gevra of dit is hoe hy lyk as hy rustig is.

U sê u was rustig en nie aggressief nie; moet ek weer vir jou die video wys waar jy die voertuig se deur oopruk en aan Etienne se klere ruk en pluk? Moet ek weer vir jou die video wys waar jy vir Etienne geslaan het? Lyk dit vir jou of jy rustig en kalm is?”

Terwyl Klopper aan Etienne begin ruk en pluk het, het Gavin uitgeklim om ondersoek in te stel en het met Klopper se pa in ‘n onderonsie betrokke geraak. Etienne het toe uit die Jeep geklim en dit het vir Klopper gelyk of hy hom weer wil slaan. Klopper het probeer keer en met dié vir Etienne geslaan. Adv. Van Rensburg kan egter nie verstaan waarom Klopper sê hy het probeer keer nie, want op die beeldmateriaal kan mens duidelik sien hoe hy sy arm hoog oplig en Etienne slaan. Bolander (die kroegman) het intussen ook by die groep aangesluit. Almal het hard op mekaar geskreeu. Bolander het Klopper met die vuis geslaan, waarna Klopper sy hand op sy vuurwapen gesit het. Die tweede hou het geval, en Klopper het op sy rug geval en sy bril verloor. ‘n Paar sekondes daarna het sy pa langs hom geland. Dit het vir Klopper gelyk of iemand nader aan hom kom en het met sy been probeer keer. Hy kon egter nie sien wie die persoon voor hom is nie en het eers na die tyd op die beeldmateriaal gesien dit was Gavin. Hy het sy vinger op die sneller gesit en drie skote afgevuur.

Adv. Van Rensburg het daarop gewys dat Klopper geweet het die polisie is oppad en wou weet waarom hy nie na sy kar is nie en sy het gevra: “Jy het geweet hulp is op pad en jy het steeds geskiet. Jy sê jy het jou vuurwapen uitgehaal om hulle af te skrik, maar jy het hul geensins gewaarsku nie”. Vandat Klopper aan die Jeep se deur gevat het om vir Etienne uit te ruk, totdat Gavin drie keer in sy bors geskiet is, het alles slegs 1 minuut 38 sekondes geduur. Adv. Van Rensburg het ook beklemtoon dat baie mense daar vir Etienne ken en weet waar hy bly, hulle hoef hom dus nie daar vir die polisie te gehou het nie.

Indien jy nie buite aan Etienne geruk en pluk het nie, sou Gavin nie gedink het sy vriend word aangeval en hom probeer help het nie.”

Vaalweekblad sal volgende week berig oor Klopper se laaste dag van kruisondervraging wat op 9 Novemeber plaasgevind het. 

  AUTHOR
Carla du Plessis
Journalist/Photographer/Online content creator

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top