Chaos toe skote klap (Video en fotos-Jannie du Plessis)

VANDERBIJLPARK. – Pandemonium het uitgebreek tussen die polisie en Nigeriërs toe een van die Nigeriërs dood is en die polisie beskuldig is van die moord.

Die konfrontasie het ongeveer 11:00 vanoggend 10 Oktober gebeur toe polisie op die beweerde dwelmhuis in De Foreststraat 70 toegeslaan het. Volgens Nigeriërs op die toneel beweer hulle dat die betrokke polisiemanne omkoopgeld kom haal het. Volgens die oorledene se vriendin was daar drie Nigeriërs in die huis wat besig was om drank te drink. Volgens getuies het een van die polisiemanne ‘n sak oor die 30 jarige man, net bekend as Ebrahim getrek en traangas onder die sak ingespuit. Die man is later dood aangetref. Vriende en familie het sy lyk bo-op die patrollievoertuig van die betrokke polisiemanne neergesit. Humeure het opgevlam en dan het hulle die kombers afgeruk en die polisie getart en gevloek en na die lyk gewys en gesê dis wat julle aan ons doen.

Vriende en familie en verskeie ander Nigeriërs en toeskouers het toegesak op die toneel wat naderhand hand uitgeruk het. Een van die Nigeriërs het ‘n polisieman geklap en terwyl hy omring was deur onstoke oproeriges het hy sy wapen getrek en twee waarskuwingskote in die grond gevuur. Daarna het ‘n klomp onstoke Nigeriërs hom getakel en aangerand. Hy het weer twee skote in die teerpad afgevuur. Een van die Nigeriërs het beweer dat een van die opslag koeëls hom skrams teen die been getref het.

Na die skietvoorval was daar kleiner voorvalle waar twee voertuie se ruite uitgeslaan is. ‘n Ander polisieman is ook uitgejou en van die toneel af weggejaag. Die Nigeriese ambassadeur en nog ‘n persoon van die ambasade in Pretoria het later die middag die skare probeer kalmeer. Die bevelvoerder van die Vanderbijlpark polisie, Brigadier Hoaeane, het ook opgedaag en die skare probeer kalmeer. Verskeie van die Nigeriërs het wonde aan die media uitgewys waar hulle na bewering deur polisiemanne gemartel is.

Kyk gerus die video deur Jannie du Plessis – Vaalweekblad verslaggewer.

  AUTHOR
Jannie du Plessis
Journalist / Photographer

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top