Wheels at the Vaal – die volmaakte familiefees

 

VANDERBIJLPARK. – Die Wheels at the Vaal Vintage & Steam 2017 fees bied vanjaar ‘n feesprogram aan wat die hele familie sal betrek. Die fees strek oor twee dae, Saterdag 2 September tot Sondag 3 September. Dit word by Sylviavale Heritage Museum gehou by Vaalrylaan 14 in Sylviavale. Dit is maklik om te vind, of gebruik GPS koördinate: 26° 44’ 07.25” S’ 27° 49’ 09.25” E.

Baie klassieke motors uit toeka se jare sal vertoon word, party seldsaam en fassinerend. ‘n Groot verskeidenheid voertuie sal te sien wees, van sportmotors tot groot sedans, tot gesogte bakkies en ander werkesels.

Onder die groot eike, langs die teetuin, sal interessante antieke enjins met betowerende ritme aan die loop gehou word. Verskeie enkelsilinder trekkers, ook met hul kenmerkende ritmiese klank, sal groot en klein vermaak. Onder die interessanthede is ‘n enjin wat water as dryfkrag gebruik, terwyl ‘n ander een ‘n omgeboude tweeslagenjin is wat met gas werk. Stoom enjins sal ‘n “lineshaft“ aandryf vanwaar verskeie “pulleys” ou landboutoerusting sal laat werk, iets wat min tevore gesien is.

Die grofsmede (“blacksmiths”) woon die fees vir die twaalfde keer by, en vanjaar is hulle gemoeid met die verfraaiing van ‘n replika-stoomtrekker braaier/skillet/bakoond, ‘n baie interessante projek.

Die “1st Rolling Museum Rally” word Sondag gehou. Dit behels om ou motorfietse te trek volgens die toepaslike reёl, naamlik dat die gesamentlike ouderdom van die motorfiets en die ryer 100 jaar moet oorskry.

‘n Verskeidenheid stalletjies gaan interessante produkte en dienste bemark. Lekker, geurige kos sal deur bekwame kokke voorsien word – iets vir elkeen se smaak.

In die binnehof word vermaak deur verskeie kunstenaars aangebied. Saterdag tree kunstenaars soos Bella Q, Cherece, Carlo Leone en die Boshgieter Broers van vroeg tot toemaaktyd op. Die Dagbreek Orkes is Sondag aan die beurt met ‘n mengsel van tradisionele musiek wat nog steeds baie gewild is. Kom proe gerus die bruisende smaak van goeie vatbiere! Die Rotary Klub van Vanderbijlpark beman ‘n tradisionele kroeg terwyl die Cock & Bull Pub ‘n wye verskeidenheid aanbied.

Toegang tot die fees is onveranderd van verlede jaar: Volwassenes betaal R60, hoёrskoolleerlinge R30, pensioenarisse R30 en laerskoolkinders en jonger kom gratis. Besoekers met klassieke motors kry gratis toegang vir die bestuurder plus een passasier. Die hekke vir besoekers open om 08:00.

SMS of bel 082 492 5214 vir meer besonderhede. Die e-posadres is sylviavale@heritagemuseum.co.za.

Kom en geniet ‘n wonderlike fees!

 

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top