Dan knars munisipale wiele tot stilstand

 

Retha Fitchat
Gaan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit binne die volgende paar weke byna R195 000 000 in die hande kry om sy skuld by Eskom te delg? Kom ons hoop so, anders moet inwoners van Vanderbijlpark, Vereeniging en die omliggende woonbuurte hulle weer gereed maak vir ure-lange beurtkrag elke dag vanaf 3 Oktober.

Die gemors waarin ons sit, het nie oornag gekom nie. Die ANC het deur die jare aan sy volgelinge ‘n utopie van gratis water, gratis elektrisiteit, gratis huisvesting, gratis skool- en universiteitsopleiding en vele meer gratis dienste soos mediese sorg, belowe.

Die ANC het blykbaar nie voorsien dat die dag gaan kom dat hy as regerende party hierdie beloftes gestand sou moes doen nie. En nou kom die boemerang terug om die ANC tussen die oë te slaan, want in die “regte lewe” kan goud nie iewers in ‘n parlementêre pakhuis gespin word nie. Die ganse wat tot dusver die goue eiers gelê het, word doodgewurg en die melkkoeie, wat soveel ander moes subsidieer, is reeds byna almal geslag.

In hierdie stadium lyk ‘n ineenstorting van Emfuleni se reeds benarde geldsake onafwendbaar. Verarmde, werklose inwoners van die townships het nie geld om vir munisipale dienste te betaal nie, al wou hulle ook. Die uitgemelkte koeie en gewurgde ganse wat tot nou toe die kruppel munisipale stelsel aan die gang gehou het, gaan waarskynlik ook ophou betaal as beurtkrag op hulle afgeforseer word.

Gaan Vereeniging en Vanderbijlpark se sakelui, wat groot skade weens beurtkrag kan ly, kwalik geneem word as hulle dan ‘n deel van hul diensgeld weerhou? Nee, sekerlik nie.

Hopelik word die munisipaliteit se besluitnemers binnekort met Salomo se wysheid óf R195 000 000 geseën om hulself los te wikkel uit hierdie ongemaklike situasie, anders voorspel Vaalweekblad ‘n tyd van donkerte vir Emfuleni wat maklik tot verdere opstande en anargie kan lei.

Dit kan die munisipale geldkoffers verder knou en Emfuleni se wiele finaal laat afval.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top