‘Só vernietig Emfuleni sakebedrywe in die Vaal’

Briewe van ons lesers

 
Sakeman in die Emfuleni munisipale gebied skryf:

As sakeman wil ek graag uitvind of ander sakemense dieselfde probleme ervaar as ons? Dit gaan oor die liewe stadsraad wat ons as besighede so te na kom deur ons advertensiebordjies te verwyder wat ons inkap om bloot ons besighede te bemark, of om die publiek te voorsien van aanwysings om ons sodoende te ondersteun.

Ek is seker ek is nie die enigste een wat omgekrap is hieroor nie. Ons betaal gemiddeld R50 tot R60 per bordjie sonder die staalwerk om die raampie te maak om dit netjies te hou.

Emfuleni doen geen moeite om slaggate reg te maak, padtekens te vervang wat nie eens meer leesbaar is, of om die paaie te verf sodat die strepe duidelik sigbaar is nie, maar hulle kan tyd mors om te ry en ons goed letterlik te ‘steel’, want wat doen hulle daarmee? Gooi dit sekerlik weg en verkoop die staal! Ek as sake-eienaar wat alreeds vir amper 20 jaar my bes doen om ‘n positiewe bydrae tot die dorp en gemeenskap te lewer, voel net dat hulle geen rede het om ons in die voet te wil skiet nie.

Kan hulle ons nie eerder help om voort te bestaan nie? Dit is tog op die ou einde tot voordeel en in belang van die dorp ook?

Inteendeel, ek was geskok om te sien hulle verwyder almal se bordjies op sypaadjies. Ek was geensins eers bewus daarvan dat ons dit nie mag doen nie.

Ek het oor die R2 000 se bordjies verloor. Dit is so onnodig!

Die advertensies het ‘n positiewe bydrae tot ons sakeonderneming gemaak. Ons het gedurende Julie heelwat navrae van nuwe kliënte gehad, aangesien die publiek altyd na ons soek.

Die bordjies het vir hulle duidelike aanwysings na ons onderneming verskaf. Sal Emfuleni ons almal eerder wil sien ondergaan?

Het hulle niks beter om te doen as om ons te probeer vernietig nie?

Ons betaal reeds so duur vir alles en geen dienste word gelewer nie.

Ek moet daagliks agter hulle aanbel om ons vullis te verwyder, maar ons betaal ten duurste daarvoor.

Alle besighede sal dit baie waardeer as ons uitsluitsel oor dié saak kan kry.

* Vaalweekblad het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gevra vir die beleid met betrekking tot advertensiebordjies. Ons sal dit binnekort publiseer.

Intussen is sakelui welkom om met Vaalweekblad se advertensie-konsultante by (016) 950 7000 te gesels oor baie bekostigbare advertensietariewe in ons koerante en aanlynpublikasies! (Red).
{} #U1018874212cYG{ display: none; } #U1018874212ECB{ font-weight: bold; font-style: normal; }

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top