Kom kuier by dié kontreimark!

 
VEREENIGING. – Woensdag 9 Augustus is dit weer tyd vir die driemaandelikse Goeiehoek-kontreimark, wat nou reeds ‘n gunsteling by baie besoekers van heinde en ver is.

Dit word gehou op die plaas Bosrand sowat 12 km vanaf Four Way Motors in Drie Riviere.

Dié kontreimark met sy hoogstaande gehalte plaasprodukte en unieke kunswerke het in Mei sy 21ste byeenkoms gehou en uitstallers sowel as besoekers kan nie uitgepraat raak oor die sukses daarvan nie.

“Hoewel ons gereed gemaak het vir meer as 1 000 etes, was ons vroeg reeds uitverkoop,” sê organiseerder Annatjie du Toit.

Die mark begin om 09:00 op 9 Augustus en hou aan tot 14:00. “Indien besoekers ná 12:30 hier aankom, is die kans goed dat hulle teleurgesteld en honger sal huis toe gaan!” waarsku Annatjie.

Besoekers word ook aangeraai om genoeg geld saam te bring, aangesien die mark op ‘n plaas gehou word waar daar geen kitsbankgeriewe is om geld te trek nie.

Hierdie keer is daar ook die Goeiehoek Kontreimark-bergfietsren wat gaan strek oor afstande van 45 km, 20 km, 10 km en 5km. Belangstellendes wat wil deelneem, kan vooraf vir Susan by 078 316 6207 of Wimpie by 083 460 9338 skakel.

Dié mark ontvang ook graag weer skenkings van nuwe of gebruikte Bybels in enige van ons landstale, asook onbederfbare voedsel, bruikbare klerasie, komberse en ander huishoudelike produkte vir herverspreiding in die gemeenskap.

“Ons is groot dank verskuldig aan ons uitstallers en besoekers – sonder hulle is daar geen sprake van ‘n suksesvolle mark nie,” sê Annatjie.

* Padaanwysings: Neem die R42 Vereeniging – Heidelberg.

Draai rigting Goeiehoek by Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in syaansluiting – rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op links ná die syaansluiting. GPS: S26°38’58.1 E28°06’50.0

Die Goeiehoek-kontreimark se mondigwordingsmark was ‘n heerlike ervaring met ‘n rekordgetal stalletjies sowel as besoekers. ‘n Hoogtepunt was die loslaat van meer as 300 duiwe as simbool van die uitstallers en organiseerders se dankgebede vir die seën wat hulle met die afgelope 21 markte ontvang het.

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top