Vier generasies by swemgala

Vier generasies deel van een gala. Kathy Reyneke, Mary Nell en Sylvia en Seruby van Tromp het verlede week bietjie oor hulle familie se betrokkenheid by die geskiedkundige Sasol Nasionale Winterswemkampioenskap gepraat. Foto: Ettienne van Rensburg

 

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die Sasolburg Swemklub en Sasol Winterswemkampioenskap is iets wat die Nells en Reynekes baie na aan die hart lê.

Dit was immers die ontslape Spike (79) en Mary Nell (87) wat in 1964 die Sasolburg Swemklub gestig het.

Verlede week was vir die familie bitter betekenisvol, toe vier generasies van die familie die 46ste Sasol Nasionale Winterswemkampioenskap bygewoon het.

Oumagrootjie Mary, haar dogter Kathy (63), haar dogter Sylvia van Tromp (38) en die se dogter Seruby (6) het in die nostalgie gedeel.

Wat die gala soveel meer spesiaal gemaak het, is dat dit die kleine Seruby se eerste mededingende byeenkoms was.

Wat die verhaal van die Sasolburg Swemklub betref, het Mary en Kathy om die beurt feite herroep.

Na ‘n beskeie ontstaan in die vroeë sestigs het Spike geen steen onaangeroer gelaat om te verseker dat die swembad – wat toe aan die Sasol Rekreasieklub behoort het – in ‘n wêreldklas fasiliteit te omskep.

Die verhitte swembad is in 1970 voltooi en Frank Gray is aangestel as superintendent en afrigter.

“Die eerste winterkampioenskap het as die Hoëveld Gala bekendgestaan en oor twee dae gestrek, en is daarna na ses dae verleng.

“In die 1990’s het meer as 1 000 deelnemers per winterbyeenkoms deelgeneem. Die ondersteuning van Sasol en die munisipaliteit het verseker dat die gala voortleef,” sê Kathy wat sedert die 1980’s by die winterswemkampioenskap betroke is.

Die kampioenskap het in die 1990’s nasionale status gekry en verskeie opgraderings het daarna gevolg om aan Swem Suid-Afrika se standaarde te voldoen.

Die swembad is onder meer verleng en ‘n elektroniese tydstelsel is aangebring, asook ‘n onderdak gedeelte vir die tydhouers en ‘n gedeelte vir die eregaste. Die paviljoen en tydhoukantoor het later gevolg.

Bekende swemmers soos Ryk Neethling, Penny Heyns, Terence Parkins en Charlene Wittstock het hulle tande by dié gala gesny.

Sylvia wat self ‘n nasionale driekampatleet en kampioenswemmer is, het in 1985 die eerste keer aan die gala deelgeneem en vanjaar op 38 die voorreg gehad om saam met haar dogter Seruby, aan die gala deel te neem.

Hoewel Mary nie meer in die Vaaldriehoek woon nie, mis sy nie sommer die jaarlikse winterswemkampioenskap nie. Veral nie as haar kleinkind en agterkleinkind deelneem nie.

Met staatmakers soos Linda en Jan Barnard, hoof van die plaaslike reëlingskomitee en die hoofborg Sasol aanboord, sal die gala van krag tot krag gaan.

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top