Leer hul bou, pleks van betoog

 

Retha Fitchat

Vir mense wat die nuus oor die oproer in Midvaal in die gerief van hul warm huise beoordeel het, is dit maklik om die betogers se optrede sterk te veroordeel. Ons land het immers al meer as sy deel gehad aan geweld, saakbeskadiging, vrees en anargie.

Tog is daar ‘n mate van begrip vir die betogers. Die meeste van dié mense is brand-arm. Hulle is basies huisloos, honger en koud. Hulle het min om te verloor. Om as betogende vandale gearresteer te word en ‘n paar nagte in die polisieselle deur te bring, sal immers ‘n dak oor die kop bied; selfs die moontlikheid van ‘n bordjie koue pap of ou brood om die honger te stil. Dit is meer as waarop baie van hulle in hul normale daaglikse bestaan kan hoop.

Die pynlike realiteit is: daar is te veel arm, onopgeleide mense in ons land en te min materiële middele, behuising en werk om aan elk ‘n menswaardige bestaan te bied.

In dié geval is die droom en die werklikheid duidelik moeilik versoenbaar. 3 533 huislose gesinne van die omgewing eis ‘n blyplek van hul eie – –  dadelik. ‘n Blyplek met lopende water, elektrisiteit, paaie en behoorlike riolering. Dit is die droom. Die realiteit, soos wat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit die afgelope week aan die betogers verduidelik het, is dat dit tyd gaan neem. Dié soort infrastruktuur moet behoorlik beplan en fyn uitgewerk word om sake vlot te laat verloop. Huise, paaie, elektrisiteitverbindings, ‘n waternetwerk en behoorlike sanitasie spring nie in plek met die klap van jou vingers nie.

Boonop het Midvaal en sy belastingbetalers nie die geld om dit alles op eie koste te verskaf nie. Die ANC-regering, wat lankal die verwagting van ‘n eie blyplek by hul kiesers gewek het, sal harde kontant daarvoor moet uithaal – en almal is deeglik bewus van ons rommel-regering se finansiële status.

Die betogers het ‘n klein groepie simpatiseerders uit die geledere van gematigde wit en swart belastingbetalers, maar die simpatie is vinnig besig om weg te syfer. Dit traak die betogers min dat hulle die lewe van produktiewe belastingbetalers (wat hul behoeftes deur middel van belasting moet befonds!) ontwrig. Hulle skroom nie om ander se lewens in gevaar te stel met hul gevreesde klipgooiery nie. Verdien hulle dan ons ondersteuning in hul aspirasies om hul eie huise te bekom? Waarskynlik nie, maar die alternatief is voortdurende onrus en afpersing van die publiek by wyse van gewelddadige betogings op ons hoofroetes.

Om met hulle te probeer redeneer, gaan waarskynlik tydmors wees – veral as hier ‘n verskuilde mag met geheime motiewe agter die betogers is, wat hulle opsteek of dalk selfs betaal om onrus te stook.

Tog hoop en glo mens daar is besluitnemers in onderhandelingsposisies wat die betogers tot ander insigte sal bring, en wat die geleentheid sal aangryp om dié verarmde werkloses te leer bou, sweis, pleister en verf sodat hulle ‘n inkomste kan verdien en met tyd hul eie huise kan bou en waardeer.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top