Die Goue Driehoek Sakekamer kóók

Retha Fitchat

Smaaklike Weskuskos , goed genoeg vir enige koning of koningin, was vandag op die spyskaart by die op-en-wakker Goue Driehoek Sakekamer se jaarlikse mediadag.

Sakelui van oral uit die Vaaldriehoek het in die fees, wat vanjaar by Ingwe-konferensiesentrum buite Vanderbijlpark gehou is, kom deel.

Die bekende ouditeur en voorslag-hengelaar, Piet Pienaar, sy ewe bekende vrou, Tessa van Mahindra, en hul spanne het geen moeite ontsien om die heerlikste kos voor te berei nie. En hulle mag maar kosmaak hoor! Soos altyd was dit voortreflik, en soos altyd het hulle geweier om hul geheime familieresepte bekend te maak!

En terwyl die innerlike versterk is, was daar ook vir die honderde gaste tyd om ou sakebande te versterk of nuwe bande te smee – alles op die maat van “live” topkunstenaars  of 90.6 se tone-wikkel musiek.

‘n Span van Vaalweekblad/Ster was ook daar om ons koerantgroep bekend te stel aan sakelui wat ons nog nie ken nie. Vanjaar het MooiVaal Media ook ‘n veiling ten bate van die diere-organisasie 50 Shades of Spay gehou. Soos ons verwag het, het die Vaaldriehoek se sakegemeenskap gewys dat hulle harte warm klop vir diere in nood. (MooiVaal Media se algemene bestuurder Thys Foord sê baie dankie vir die ongelooflike ondersteuning).

Verskeie Vaaldriehoekse sakeondernemings het ook die snoekbraai en mediadag benut om stalletjies te beman waar hulle hul dienste of handelsware bekendgestel het.

Hou volgende week se Vaalweekblad-papieruitgawe, www.vaalweekblad.com sowel as Vaalweekblad Facebook dop vir nog foto’s en meer inligting oor sommige van die lede van die Goue Driehoek Sakekamer (Golden Triangle Chamber of Commerce).

Sakelui wat nog nie by die Kamer ingeskakel het nie en graag deel van die pret en inligtingsessies wil word, kan Francisca Loots kontak by sakeadmin@vanderbijlpark.co.za of  084 040 8000 om meer oor lidmaatskap uit te vind.

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top