Bokke trek flou Hane se stertvere

Die bokke se kookwater-senter, Jan Serfontein, kloof die Franse se verdediging oop. Foto: Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg – Bok se kind is weer op die wenpad en ‘n toetsreeks-oorwinning van 3-0 oor die Hane is sekerlik nie te versmaai nie. Veral na ‘n teleurstellende 2016-seisoen is dit weer lekker om die volkslied uit volle bors te sing.

Die Springbokke het Saterdag op ‘n volgepakte Ellispark vir Frankryk in die derde en laaste toets met 35-12 geklop,  maar mens moet versigtig wees om nie in vervoering te raak nie. Ja die biltong, brannas en braaivleis proe sommer baie lekkerder as jou span wen, maar mens moet realisties bly.

Hierdie Franse span is alles behalwe goed, maar mens moet ook nie die baba met die badwater uitgooi nie. Op die stadium is ‘n reeks-sege net die regte medisyne vir Bokrugby. Hoewel die draers van die Groen en Goud Saterdag nie naastenby so skerp gelyk het soos in die vorige twee toetse nie, is dit opsigself ‘n prestasie om aan die wenkant te bly al speel jy nie goed nie.

Die afwesigheid van die span se kaptein en agtsteman, Warren Whiteley, het ‘n groot leemte gelaat en die Bok-skrumskakel, Franscois Hougaard, het in die afwesigheid van Ross Cronje verroes gelyk en gesukkel om te oortuig. Hougaard se onsekerheid het na die Bok-losskakel, Elton Jantjies, oorgespoel wat gesukkel het om sy stempel af te druk. Die liesbesering wat Whiteley op die kantlyn gehou het, het die weggebaan vir die bokslot Eben Etsebeth om die 59ste Springbokkaptein te word. Etsebeth en sy slotmaat Franco Mostert en  sy mede Leeus-helde Jaco Kriel en Malcom Marx was aanvanklik die bokke se uitblinkers voorlangs.

Die plaasvevangers Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager en  Steven Kitshoff het in die tweede helfte die kruitvat aangesteek, nadat die bokke rustyd slegs met 16-9 voorgeloop het.

Die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, sal waarskynlik na die reeks-sege effens rustiger slaap en die opkomende Rugbykampioenskap met meer moed kan aandurf. Na die All Blacks se oortuigende sege Saterdag oor die Britse en Ierse Leeus moet die Springbokke se visier eerder op die Wallabies en Argentyne ingestel word. Hoewel die Bokke weer voorlangs byt het en dinge agterlangs met elke toets begin beter lyk sal dit nog ‘n ruk neem om die skade te herstel. Wat nog daarvan te praat om die magtige All Blacks te troef.

PUNTEMAKERS: Suid-Afrika 35 (16): Drieë: Jesse Kriel, Eben Etsebeth, Malcom Marx en Rudy Paige. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoele: Jantjies (3).

Frankryk 12 (9): Strafdoele: Jules Plisson (4).

 

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top