Gewapende rooftog by Emerald Casino en Resort (Fotos – Jannie du Plessis)

VANDERBIJLPARK. – In ‘n beplande gewapende rooftog gisteraand net na 22:00 17 April is die Emerald Casino en Resort van ‘n onbekende bedrag geld beroof.

Verskeie voertuie ondermeer ‘n Wit Ford Ranger dubbelkajuit bakkie, ‘n Lexus, ‘n swart Audi en ‘n wit VW Polo is gebruik in die roof waarin ‘n onbekende aantal rowers betrokke was. Een van die rowers is doodgeskiet by die hoof ingang na die Casino. Vaalweekblad kon nog nie bevestig nie maar voorlopige inligting is dat nog twee rowers gewond is en na die hospitaal deur ER24 vervoer is terwyl ‘n polisievrou ‘n kopwond opgedoen het in ‘n skietery voor die hoof ingang na die Casino. Die projektiel is deur die voorruit van haar voertuig voordat dit haar getref het.

Verskeie van die rowers is egter deur die polisie gewond en laataand en vroeg vanoggend was honde besig om bloedspore te volg op verskeie plekke. Die polisiehelikopter is ook ingespan in die soektog. Die rowers wat op vlug was en met die polisie agterna het in verskeie rigtings deur die SE7 en SW5 woongebiede op mekaar met semi- en outomatiese gewere geskiet. Skote is sover as in SE 1 gehoor. Patroondoppe het orals gesaai gelê. Een voertuig is blykbaar in Vaalpark gevind. Een naby Oscars op die Stokkiesdraaipad en die Ford Ranger in Bonanè.

Lede van die publiek wat oogetuies was van die gebeure kan gerus ongeluk en misdaadveslaggewer van Vaalweekblad kontak. jannie.duplessis@media24.com.

LEES DIE VOLLEDIGE BERIG EN MEER FOTOS IN VAALWEEKBLAD 19 APRIL.

Verskeie patroondoppe soos hierdie een in Beethovenstraat het orals deur die woonbuurtes gesaai gelê soos wat die rowers en polisie op mekaar geskiet het. Foto: Jannie du Plessis

Buurtwaglede en sekuriteitspersoneel verspêr die pad na die Casino na die rooftog by die Emerald Casino. Foto: Jannie du Plessis

  AUTHOR
Jannie du Plessis
Journalist / Photographer

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top