Ruann wil ‘n byltjie slyp

Ruann Visser

Wanneer hy oor die kryt se toue vir jou loer, is dit ’n intimiderende gesig. Wanneer hy nie self oefen nie is hy besig om sy kennis terug te ploeg. Hy bied in die middae in sy gimnasium op hulle plaas in Meyerton boksklasse van 14:30 tot 15:30 aan. In die oggend bied hy klasse vir volwassenes aan. Vir meer inligting kontak Ruann by 063 591 0838.

Ettienne van Rensburg
MEYERTON. – Daar is niks so verfrissend soos Old School oefeninge om jou voorbereiding vir ’n titelboksgeveg op te kikker nie.
Vra maar vir Ruann Visser, een van die land se ontluikende swaargewigboksers. Die boksreus van Meyerton is tans besig met voorbereiding vir sy Afrika Boks Unie (ABU) Swaargewig geveg wat op 31 Maart by die Wildekus teen Ashraf Sulaiman van Tanzanië plaasvind.
Buiten sy normale oefensessies per dag wat uit hardloop, gym, swem en skermwerk bestaan, kap hy ook tussendeur hout om sy skouers te versterk.
“Ek was nog nooit so fiks of goed voorbereid vir ’n geveg nie. Dit is lekker om bietjie Old School oefeninge te doen.
“Ek kan die verskil in my skouers voel, hulle word glad nie moeg as ek skerm nie,” sê hy.
Asof sy gewone fisieke teenwoordigheid nie genoeg is om meeste sterflinge se broekspype te laat bewe nie, is sy 2,07m en 122kg-raamwerk gewapen met ‘n byl iets skrikwekkend om te aanskou.
Voordat mens kan keer, neurie jy onwillekeurig die temaliedjie van die lokettreffer Rocky terwyl jy sy houtkapvernuf dophou.
Wat sy geveg by die Wildekus betref, is hy versigtig optimisties. “Hy is ‘n spoiler en ‘n brawler. Hy is geneig om wilde houe te slaan, wat hom kwesbaar laat vir teenhoue en opstoppers,” sê Ruann.
Die afgelope 12 maande het wilde draaie met die boorling van Meyerton gemaak, maar dit was alles ten goede.
Hy is pas weer na Oostenryk genooi om die voormalige wêreldkampioen, Wladimir Klitchko, te help met sy voorbereiding vir sy geveg teen Anthony Joshua op 29 April in Engeland.
“Ek gaan dié keer nie op my senuwees wees nie. Ek weet wat om te verwag. Dit is nie dieselfde Ruann wat teruggaan nie. My handspoed en voetspoed het baie verbeter,” sê hy.
Sy vorige besoek aan die Klitchko-kamp het verreikende gevolge gehad.
Klitchko se afrigter, die legendariese Ali Bashir het die vurige rooikop raakgesien en besluit om sy hoofafrigter te word.
“Hy het vir my gesê hy wil ‘n laaste keer nog ’n wêreldswaargewigkampioen brei. Ons het lank gesels. Hy het vir my gesê dat hy verlang dat ek honderd persent toegewyd moet wees. Ek het hom die versekering gegee” sê Ruann.
Hy sou onlangs teen die legendariese Francois “Die Wit Buffel” Botha baklei het, maar weens uiteenlopende redes is die geveg gekanselleer.
“Sy wêreldkeuring is hoog en ‘n geveg teen hom sou verseker het dat ek die top 50 ranglys gehaal het. Hy wou egter R500 000 vir die geveg gehad het,” vertel Ruann.
Hoewel Ruann en die Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen,Osborne Machimanha vriende en skermmaats is, is Ruann vasberade om die SA-kampioen te word.
“Uit respek daag ek hom nie uit nie. Hy het gesê hy wil nog twee gevegte veg en dan uittree, maar as dit nie teen Julie gebeur nie gaan ek hom uitdaag. Ek sien in die skermsessies dat ek hom gereeld seermaak,” gee Ruann te kenne.
Volgens Ruann het ’n wêreld vir hom oopgegaan sedert Bashir hom afrig. “Waar ons in die verlede ‘n paar minute skaduboks gedoen het, het hy my met die intrapslag 45 min laat skaduboks. Mens kan ‘n duidelike verskil sien. As ek in 12 rondtes se skermwerk vyf keer raakgeslaan, word is dit baie.”
Daar lê egter na sy opkomende geveg ‘n bedrywige tyd vir hom en sy hulpafrigter Soon Botes voor.
Ruann-hulle is tans besig om ’n kontrak van ses gevegte in Las Vegas te beklink. Al wat mens kan sê is: Viva Las Vegas!

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top