Hoekies kelder Gimmies in doodsnikke

Driehoek se Dyllan Smit maak gereed om die wenskop deur die pale te jaag.

Sportredaksie

VANDERBBIJLPARK. – Die Komkommerkoel kanonpoot van Dyllan Smit het Vrydagmiddag ‘n roemryke sege aan die eerste rugbyspan van die Hoërskool Driehoek besorg.

Driehoek het aan die vooraand van die lang naweek gasheer vir Potchefstroom Gimnasium gespeel en die naelbytkragmeting in die Puk Prestige-reeks met 42-40 in die doodsnikke beklink.

Die  Hoekies het vir die tweede opeenvolgende wedstryd ‘n rustyd-agterstand uitgewis om te seëvier. Vrydagmiddag was dit weer sulke tyd. Gimmies het rustyd met 26-20 voorgeloop, maar die tuisspan het weer groot veggees getoon en inhaalrugby uit die boonste rakke gespeel.

Die wedstryd het vanuit die staanspoor hoë tempo rugby opgelewer. Die besoekers het in die derde minuut met 7-0 die voortou geneem. Om sake te vererger is die Hoekies se agtsteman Neil Erasmus vir laat skouerloop ‘n geelkaart gewys. Die tuisspan het egter die stang in Erasmus se afwesigheid vasgebyt en agt punte teen Gimmies se sewe aangeteken.

Die Hoekies was ingestel om hardlooprugby te speel. Met Smit op loskakakel en Christopher Viljoen in die laaste vesting is die toeskouers met puik aanvallende rugby bederf. Generaal Smit groei elke wedstryd. Sy taktiese skopvoet het die tuisspan telke male gered of op die voorvoet geplaas.

Die hoekie-agttal met sy kaptein Jean Herbst aan die spits het nie ‘n aks vir die Potchefstromers teruggestaan nie. Die span se lostrio gelei deur Herbst is goed aangevul deur Arno Hoffman wat oral op die veld was en Erasmus wat die fisieke element partytjie toe gebring het, wat verlede week kort geskiet het.

Driehoek het pragdrieë gedruk om die voortou te neem, maar swak spel van die afskoppe af, het die besoekers in die wedstryd gehou. Met vier minute se spel oor het Gimmies gaan druk om met 40-39 voor te loop.

Die Hoekie-ondersteuners was enduit op die punte van hulle stoele vasgenael en die hoofpawiljoen het in vreugde uitgebars toe Smit in die doodsnikke koel en kalm ‘n strafdoel net-net aan die binnekant van die linker regoppaal  vir ‘n naelskraapse sege laat inkrul.

Driehoek is tans na twee wedstryde onoorwonne met 10 punte die voorlopers in Groep C en is reeds verseker van ‘n plek in die top8 van die kompetisie.  Die Hoekies kom Saterdag teen Anker van Brakpan te staan wat tweede lê. ‘n Sege sal verhoed dat hy teen die Beeldtrofee-naaswenner  Lichtenburg in Lichtenburg in die top 4 te staan kom. ‘n Sege oor Anker behoort ‘n uitspeelwedstryd teen Hoërskool Middelburg tot gevolg hê.

PUNTEMAKERS:

Driehoek : 42, Potch Gim 40

 

Driehoek: 42 (20): Drieë: Shaun Schoen (2), Jean Herbst(2), Jay Jay Schoen en Raymond Thompson. Doelskoppe: Dyllan Smit (3). Strafdoele: Dyllan Smit (2).

Potch Gim: 40 (26): Drieë: Edrich Cronje (2), Frans Burger; Johan Minnaar, Morne Delport en Arno Gustafson. Doelskoppe: Vernon Charslund (5).

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top