Wat het geword van dié honde?

Die Labradortefie se drie kleintjies drink lekker terwyl die Collie-hond beskermend toekyk.

Retha Fitchat

SASOLBURG. – Om passievol te wees oor honde verryk ‘n mens se lewe, maar dit veroorsaak ook dat jy jouself soms met heelwat probleme opsaal. Dít het Veronica Joubert van Risiville pas by herhaling besef toe sy haar vir die soveelste keer oor twee verlore honde ontferm het. Een van die honde het pas kleintjies gekry en nou sit sy met vyf ekstra honde wat versorg en gevoed moet word!
Veronica het Vrydag, 30 Desember, by Vaalweekblad om hulp kom aanklop nadat sy ‘n verlore Collie-reun en ‘n Labradorteef op die pad tussen Heidelberg en Sasolburg aangetref en opgelaai het.
Hoewel die honde nie halsbande aangehad het nie, het hulle vermoedelik liefdevolle eienaars, want albei was in ‘n goeie toestand. Die vriendelike honde se ouderdomme word so tussen drie en vyf jaar geskat.
Vaalweekblad het op versoek van Veronica dadelik ‘n berig oor die honde op Facebook geplaas en ons lesers was net so meegevoer oor die pragtige verlore diere soos sy. Binne ‘n dag of twee het die berig reeds meer as 61 000 lesers bereik en is dit byna 750 keer op Facebook gedeel. Die honde se eienaars het tot dusver nog nie na vore gekom nie.
Om sake te vererger het die Labradorteef ‘n paar dae nadat Veronica haar huis toe geneem het, geboorte aan drie klein hondjies gegee.
“Ons twyfel of die Collie hul pa is. Dit lyk eerder of hulle staffie- of pitbull-bloed het,” sê Veronica.
Omdat dit na die geboorte gelyk het of die Labrador ongemaklik was en pyn gehad het, het hulle haar na ‘n veearts geneem waar sy inspuitings en behoorlike behandeling gekry het.
“Die Collie is so beskermend oor die tefie en haar babatjies, hy staan die hele tyd naby om seker te maak alles is reg met hulle,” sê Veronica.
Sy is gek oor honde en het reeds ‘n hele paar van haar eie. Verskeie van dié was verlore honde wat sy van die strate af gered het. Ongelukkig kan sy die nuwe toevoegings tot haar huishouding nie permanent hou nie, omdat sy eenvoudig nie die nodige fondse en ruimte by haar huis in Risiville het om nóg vyf honde te akkommodeer nie. Sy is egter bereid om die honde vir nog ‘n rukkie te versorg, in die hoop dat die eienaars binnekort opgespoor gaan word.
Enigiemand wat bereid is om Veronica te ondersteun met hondekos of ‘n donasie vir die versorging van die vyf honde, kan Marina Swartz skakel by 773 520 7143 of stuur ‘n e-pos na veronicax104@gmail.com.

Hooffoto: Die Collie-reun staan beskermend en toekyk terwyl die drie babahondjies aan hul ma drink.

 

Foto’s Onder: Die twee verlore honde soos wat hulle gelyk het toe hulle op 30 Desember tussen Sasolburg en Heilbron gevind is.

collie veronica Labrador veronica

  AUTHOR
Retha Fitchat
Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top