Vaal spog weer met Valke-president

Jan Wiegand, waarnemende president van die Valke-rugbyunie

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Dit het 20 lange jare geneem, maar die Vaaldriehoek spog uiteindelik weer met ‘n Valke-rugbypresident.
Hoewel Jan Wiegand, waarnemende president van die Valke-rugbyunie, geen bekendstelling in plaaslike rugbykringe nodig het nie, verdien sy diensrekord van 17 jaar by die Valke-rugbyunie wel spesiale vermelding.
Sedert 1999 het hy in die hoedanigheid as keurder en afrigter van die Valke Platteland en Amateurspan, asook in die direksie van die Valke-rugbyunie, diep spore in klub- en provinsiale rugby getrap.
Met die aanstelling van Vivian Lottering in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) se uitvoerende komitee en sy gepaardgaande vertrek, het Wiegand sonder om te huiwer, die mantel wat om sy skouers geval het, stywer getrek.
Weens die regering se “voorstel” om die land se aantal rugbyunies tot nege te verminder, heers daar baie onsekerheid, maar volgens Wiegand gaan dit nie die Valke van stryk bring nie.
Hoewel die tradisionele groot provinsies die dreigende valbyl sal vryspring, is Gauteng die grootste kopseer met die Blou Bulle, Goue Leeus en Valke wat in dieselfde geo-politiese gebied val.
“Ek dink dit gaan ‘n uitgerekte bespreking wees en dit gaan nie ‘n maklike besluit wees nie. Daar is miljoene rand se borgskappe betrokke,” het Wiegand aan Vaalweekblad gesê. Die Valke en die Griffons is egter die enigste unies wie se bankbalans nie in die rooi is nie.
En dit is nogal ‘n prestasie, veral gemeet aan die finansiële verknorsing waarin meeste van die land se rugbyunies en SARU homself tans bevind. Maar elke donker wolk het ‘n silwer randjie.
Volgens Wiegand is daar gevorderde samesprekings om ‘n Gautengbeker op die been te bring, sodat die top klubspanne van die Carltonbeker (Blou Bulle), Pirates Grand Challenge (Goue Leeus), Peregrine (Valke) teen mekaar kan speel. Dit kan verreikende gevolge hê. Hoewel daar toenemende regeringsdruk is om die aantal unies te verminder, gaan dinge onveranderd voort by die Valke.
“Elke unie veg vir sy eie bestaansreg, maar alles gaan vir eers voort soos in die verlede. Die Valke het wel die 2016 seisoen by die Lions se Superrugby Franchise ingeskakel en onderhandelinge is tans aan die gang vir 2017.”
Ondanks al die onsekerheid is Wiegand steeds vol planne. Om die B-afdeling van die Curriebeker te wen is ononderhandelbaar.
“Ons het vir die eerste keer subkomitees vir finansies, grondwet, reëls en regulasies, afrigting/hoëprestasie, liga-struktuur en laastens klubs en skoleskakels gevestig.”
Dit is ‘n reuse tree in die regte rigting en dié uitgebreide netwerk van kenners sal spoedig vrugte afwerp.
Volgens hom is die klubs die belangrikste skakel in enige rugbyunie se ketting.
“Die klubs moet weet wat in die unie aan die gang is en inligting moet deurlopend beskikbaar wees,” sê hy.
Hierdie jaar vier die Valke sy 70ste bestaansjaar en daar word groot dinge beplan. “Ons beplan rugbydae en dinees by die klubs en ‘n groot gala-aand aan die einde van die jaar om alles mee af te sluit.
Die eerste hiervan vind op 25 Februarie 2017 by Springs Rugbyklub plaas, sê Wiegand.

  AUTHOR
Ettienne van Rensburg
Sports Editor

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top