Aangeval en vermoor langs rivier

//

Hy en sy lewensmaat, Susan Coetzee en kinders Abigail (16), Kaitlyn (10), Jacques (12), Abigail se vriend, Aston (17) en Bronwyn (Aston se sussie) het Vrydagaand omstreeks 20:00 by die kampeerplek in Maccauvlei by die Soetdoring-klub uitgespan. Hulle het om die vuur gekuier, min wetend dat dit hul laaste kuier saam sou wees.
Volgens Aston het die drie jonger kinders besluit om bed toe te gaan en nie lank daarna het hy en Abigail ook besluit om te gaan slaap. Susan sê dit was omstreeks 00:30 toe sy en Buks besluit het om ook te gaan inkruip. Sy was op pad na die karavaan toe sy uit die hoek van haar oog ‘n figuur gesien het. “Drie of vier mans het op my afgestorm en my oor die kop geslaan. Ek het na Buks gehardloop en om hulp geskree. Ek weet nie of hy my dalk nie duidelik gehoor het nie, want daar was musiek aan, maar toe hy omdraai, slaan hulle hom ook oor die kop. Hy het geval en was bewusteloos.
Aston sê hy het Susan hoor skree en toe hy agter die karavaan uitkom, het ‘n man hom met ‘n piksteel bygekom. Ek was seker sowat vyf minute bewusteloos,” vertel Aston.
Die een man het Jacques op die grond laat sit en hom gevra waar sy pa se gewere is en waar hulle woon. Hulle het hom daarna in die motor toegesluit. “Ek het die een man gevra of ek in die karavaan mag gaan, want ek wou kyk of die meisies oraait is,” sê Aston.
In die karavaan het die aanvallers die gesin se tasse deursoek en in die kaste gekrap. “Ek het vir die meisies gesê om kalm te bly en nie na die mans te kyk nie. Die een het gevra waarom ons Otees-pap het en nie Kelloggs nie en waarom ons volroom melk gebruik. Ek skat hulle so 19 of 20. Hulle het in die karavaan rondgekrap, gelag en gedans,” sê Aston.
Terwyl Susan op die grond gelê het, het een van die mans haar keer op keer oor die kop geklap en dan baie sarkasties gesê: “Sorry me”.
“Hulle kon alles vat, maar hoekom moes hulle Buks doodmaak. Hulle het hom opsetlik vermoor, want hy was bewusteloos en sou nie kon terugbaklei nie. Hy het nie eers ‘n wapen by hom gehad nie,” sê Susan.
Susan is herhaaldelik met ‘n onbekende voorwerp, vermoedelik ‘n hamer, aangerand en later het die aanvallers weer hul aandag op Buks toegespits. Buks is vermoedelik met ‘n graaf doodgeslaan terwyl hy bewusteloos was.
Die rowers het met selfone, juwele en ‘n skootrekenaar gevlug. Hulle het ook die sleutel van die motor waarin Jacques toegesluit was, weggegooi.
Susan en die kinders het gewag tot dit stil was en Buks in die bakkie gelaai en met hom na Midvaal Hospitaal in Drie Riviere gejaag, maar dit was tevergeefs.
Susan het kopwonde opgedoen en moes steke kry, maar is intussen ontslaan. Die kinders het nie een ernstige beserings opgedoen nie. Buks en Susan se oudste seun Rickus (21) was nie saam op die uitstappie nie.
Buks word op 11 November vanuit die Hervormde Kerk in Vereeniging begrawe.
Die polisie ondersoek die saak, maar geen arrestasie is teen druktyd gemaak nie.
* Vaalweekblad het gedurende September berig oor twee paartjies wat langs die Vaalrivier gekamp het en ook deur rowers oorrompel is. Die 52-jarige Fred Barnard het in die hospitaal aan sy beserings gesterf.
  AUTHOR
Carla du Plessis
Journalist/Photographer/Online content creator

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldSedibeng Ster
Top